Mag jou voete ook vlerke kry hier in Montagu.

Marchelle van Zyl is die eienaar van Flying Feet. As gids neem sy toeriste op kleurvolle handgeverfde fietse op historiese dorps- en kunstoere. Die handgeskilderde fietse is deur plaaslike kunstenaars geverf en ‘n toonbeeld van die kreatiwiteit wat deur Montagu vloei. Sy vertel ons waar die inspirasie vir die onderneming vandaan kom.

My beste herinneringe as kind speel af op ‘n fiets. Soos ‘n ou Kodachrome-film speel dit af in my geestesoog – ek voel steeds die wind in my gesig, ek hoor die gesuis in my ore, ek voel die pyn van my gevriesde litte op ’n koue Karoo-wintersoggend, die sweetvingers wat teen my rug af streep op ’n onsimpatieke somersdag. Maar dit is die gevoel wat ek kry as ek terugdink wat my roer. Hulle sê mos, mense onthou nie altyd wat jy gedoen het nie, maar hulle onthou hoe jy hulle laat voel het. Ek onthou nie al die detail op my fiets nie, maar ek onthou die gevoel van vryheid. Ek wat in beheer is van my weg, my baan, my bestemming. Geen ouer of volwassene wat vir my sê waarheen. Dis net ek en my fiets wat die rigting bepaal.

In my hele skoolloopbaan het my ma my seker net 5 keer met ‘n motor by die skool gaan aflaai. Soos baie kinders van my tyd, het ek vir twaalf jaar elke dag fiets gery om te kom waar ek wou wees. En as ek ’n pap wiel gehad het, het ek gestap.

Ek het vir die afgelope vyf jaar in die stad gewerk en elke dag in my motor gesit. Werk. Ry. Winkel. Ry. Kuier by vriende. Ry. In die stad is daar nie regtig die geleentheid of plek om veilig met ’n fiets te ry nie. Of die afstande is net eenvoudig te ver. Mens wil nou nie juis natgesweet met ’n rooi gesig by ‘n braai aan die ander kant van die stad opdaag nie.

Dis een van die dinge wat my na die platteland teruggelok het – die geleentheid om weer bevry te raak van die motor. ’n Motor seël jou in. Die vensters ’n filter tussen jou en jou omgewing. Jy ruik nie die reuke van jou buurt nie, jy hoor nie die voëls kwetter nie. Dis net jy in jou bekende kokon. Toegewikkel in die bubblewrap van jou gunstelingstasie.

In teenstelling laat ’n fiets jou toe om ongefilterd van punt A na punt B te beweeg. Dis vinnig. Dis gesond. Dis omgewingsvriendelik. Vir my is dít vryheid.

Dit is dus vir mense wat my as kind geken het, geen verrassing dat ek ’n paar jaar gelede ’n loopbaan- U-turn gemaak het en weer by fietse uitgekom het nie. Sommiges noem dit ’n midlife crisis. Ek sal egter nie die nuwe avontuur in my lewe as ’n krisis beskryf nie. Eerder ’n emansipasie, ’n vrymaking ’n geleentheid.

As ek daardie bultjie in Montagu van die Oudam afvat dorp toe en jy bou genoeg spoed op om weer anderkant uit te kom, voel dit asof ek vlerke het. My voete vat nie grond nie.

Dit is wanneer ek reis, in die natuur stap of op my fiets ry wanneer ek vryheid ervaar. Dís wanneer ek voel asof my voete vlerke kry. Dis een van die stories agter die naam, Flying Feet. Mag jou voete ook vlerke kry hier in Montagu.